Waarom ek jou liefhet, Heine

Ek skuif al die goedjies nader sodat dit bymekaar lê en ek al die produkte mooi kan toedraai. Ek kom nie eers agter hoe in-gedagte ek raak nie - ek fokus net op die katoen, gedroogte dinge, bruin papier, waspapier...bokse...en die mooi. Dit MOET mooi wees vir die persoon wat die pakkie ontvang☝️🙃😁
Ek verloor myself genoeg in die toedraai-proses dat ek nie eers agterkom dat Heine besig is om sy visse meelwurms te voer nie... altyd lekker om te weet daar mag dalk 'n meelwurm of twee ontsnap uit hul boksie waarin hy hulle lewendig hou en dan kruip dit in jou huis rond...🙄😮🥴
Asof dit nie genoeg was dat ek nou die dag moes beleef hoe hy 'n stukkie van sy appel vir die meelwurms voer nie (hulle moet natuurlik aan die lewe bly sodat die visse ook kan vreet), moes ek die opgewondenheid in sy stem hoor toe hy sien een van sy wurms is nou nie meer 'n wurm is nie maar een of ander "ander" gogga🙄🙄🙄
Ag en soos ek rustig hier in my eie wêreld leef, besig om myself te fasineer met alles wat vir my mooi is soos mandjiekoors, kranse en knope, dink ek toe dit goed om miskien net dalk die 70% alkohol "sanitizer" bottel vir hom te hou toe ek sien hy is weer besig om met die blêrrie wurms te speel toe hy sê: "moenie bekommer nie, man. Ek spuit my hande elke keer voor ek aan hulle vat!"🧐🧐🧐
Toe besef ek net weer - ek het met dáái man getrou - die een wat homself "sanitize" VOOR hy aan die goggas vat. Toe draai ek maar net om terwyl ek my kop skud, gaan sit, kyk na al die mooi en draai my pakkies verder toe.😁😍🥰

Leave a comment